Omnia logo    

Meer as die gewone! 

   Islam logo 

Die wêreld sal nooit weer dieselfde wees nie….dis wat hulle sê, maar ek sal ook nooit weer dieselfde wees nie.  My geloof in God het verander, my siening van mense het verander en die toekoms het vir my ‘n ander betekenis begin kry.  Almal weet van Islam, Allah en Mohammed want dis al vir jare deel van hierdie lewe, maar om saam met die Moslemleiers van Johannesburg te kuier en praat oor verlossing, sonde, gebed en die openbaring van God, is ‘n perd van ‘n ander kleur.

Omnia gemeente het besluit om die Moslem bediening deel te maak van sy missionale benadering.  Die Somaliërs wat in Mayfair en in Fordsburg woon is in die versier. Tans is daar meer as 140 000 Somaliërs in Suid Afrika. Byna geen mens waag dit om deesdae Somalië toe te reis nie as gevolg van die verskrikking van o.a. die Al Shabaab en die verwoestende armoede in die land. Ons het dit as ‘n geleentheid gesien om uit te reik en sommer “eie geloofswapens”  te gaan toets.

Johan Louw van Davar partners het in November 2016, 24 lede opgelei om die taak aan te pak.  Die opleiding het spesifiek gesentreer rondom “orale evangelisasie” en die hantering van spesiaal vervaardigde Bybels wat in Somalies opgeneem is. Die resultate van die opleiding was verstommend! Die uitdaging is verstommend! Waar daar eers vrees en onsekerheid was, heers daar nou ‘n opgewondenheid.          

Tydens die opleiding het ons bewus geword van ‘n “person of peace” , na aanleiding van die gedeelte in Lk 10:6, as ‘n soort gids of informant.  Ons het daaroor gebid en so het Rehan Khan op ons pad verskyn.  Rehan was self ‘n Moslem wat op die punt was om hom as ‘n Imam te bekwaam toe hy tot bekering gekom het.  Tans bedien hy duisende Moslems oor die internet wat in Pakistan bly.  Sy bekering is waarlik wonderlik en sy liefde vir Jesus Christus is buitengewoon.  Huidig vind daar gesprekke plaas tussen die Moslemleiers, hulle meelopers en Christenleiers.  Die gesprekke is redelik gemoedelik maar ‘n mens is nooit op jou gemak nie.  In Mayfair het daar meer as 400 Moslems opgedaag vir die gesprek en slegs 7 Christene. Dit was nie maklik nie maar God bly getrou en die geleenthede vir persoonlike werk is altyd daar met die sosiale verkeer na die gesprek waar hulle vrae kom vra. Dit bied ‘n geleentheid om Jesus as ‘n ware vriend en Verlosser te verkondig.  Ek glo God wil hê dat elke Christen in die land kennis moet neem van die ongelooflike geleentheid!  Word deel van ‘n uitdaging in Suid-Afrika!

Jannie McDuling

Islam 1 Islam 2 Islam 3

Go to top