Taakspan Gemeentewees: Vergadering 12/6/2017

SLEUTELWOORDE: Sekularisasie

Strukturele Sekularisasie:

Sekularisasie verwys na die proses waardeur dele van die samelewing en kultuur verwyder raak van godsdienstige instellings en simbole waardeur dit voorheen beïnvloed is. Dit is ’n veelsydige, historiese proses waarin die mens bewus geword het van die belangrikheid van die wetmatigheid van hierdie wêreld wat deur die mens beheers kan word (Heyns, 1969:26). Die oortuiging is dat die verskillende strukture waarin ons leef (wetenskaplik, sosiaal, tegnologies, opvoedkundig en so meer) elkeen in sy eie terme verstaan behoort te word sonder verwysing na die ‘bonatuurlike’ of ‘transendente’, byvoorbeeld die skeiding tussen kerk en politiek. Die invloed van religieuse strukture op ander sosiale strukture neem dus af. rukturele prosesse staan bekend as

Sosiale Sekularisasie:

Afgesien van affekteer sekularisasie die subjektiewe kant van die kulturele lewe en idees. Daarom is sosiale sekularisasie ’n sosiologiese verskynsel wat in mense se idees en lewe gestalte kry (Maclure & Taylor, 2011:21). Sosiale sekularisasie is altyd gekleur deur die geskiedenis en konteks van ’n spesifieke samelewing, alhoewel tog gesê kan word dat een van die belangrike komponente van enige model omtrent sosiale sekularisasie die uitkalwing van die invloed van godsdiens in die alledaagse, sosiale praktyke en in individue se lewe sal insluit (Maclure & Taylor,  2011:15-16,53).  In die plek van godsdiens se invloed, kom die outonomie van die menslike bewussyn. Gelyklopend hiermee verminder die sosiale betekenis van godsdiens en verminder die effek daarvan op openbare opinies en sosiale norme.

Moderniteit en postmoderniteit:

Sekularisasie kan in verband gebring word met die opkoms van moderniteit en postmoderniteit wat as kulturele epogge die filosofiese beskouings van modernisme en postmodernisme ontsluit het. Modernisme se bepalende eienskap wat ook die postmodernisme beïnvloed, is dat die mens die mag het om die kenbare sosiale, ekonomiese en politieke orde te verander en te beheer volgens die universele kriteria van rasionaliteit (Avis, 2003:92-93). Wetenskaplike rasionalisering met gepaardgaande modernisasie is eie aan die epog van moderniteit. In die postmoderniteit vind ons die voorsetting van die gedagte dat die mens homself vry ag om as ’n ongebonde, selfstandige individu te ontwikkel met sy of haar eie opinies. Die rasionaliteit van die individuele bewussyn dien as kragtige sekulariserende dryfkrag in die hedendaagse lewe. Moltmann (1999:212) identifiseer hierdie saak as een van die beginsels van die moderne wêreld.

Institusionele differensiasie:

Waar kulturele modernisasie plaasvind, lei die kuns, wetenskap, moraal, regstelsel, opvoeding en onderwys, filosofie en godsdiens meer en meer ’n eie lewe volgens elk van hierdie dimensies se eiesoortige rasionaliteit. In hierdie sin het ons te doen met ’n situasie van institusionele differensiasie. Germond (2005:52) identifiseer differensiasie as die proses waardeur verskeie institusionele sfere in die samelewing geskei raak van ander institusionele prosesse. Relatief komplekse, moderne samelewings word gekenmerk deur strukturele segregasie van die sosiale lewe in verskillende sosiale instellings wat nie met godsdiens vervleg is nie. In terme van die godsdienssosiologie verteenwoordig die kerk, as godsdienstige instelling, ’n ongewone vorm van institusionele spesialisasie wat onopsetlik bygedra het tot die proses van sekularisasie (Berger, 1990:123).

Fragmentasie en pluralisasie:

Sosiale differensiasie het ’n direkte effek van sosiale fragmentasie tot gevolg. Hierin word alle vorme van sosiale monopolieë soos ’n politieke ideologie of ’n godsdiens opgebreek. Sodoende word die speelveld oopgemaak vir die wedywering van sosiale idees en oortuigings (Martin, 2005:20-21). Dit loop hand aan hand met pluralisasie. Die bewustheid van hierdie sosiale veelvuldigheid skep volgens Gergen (1991:247) die moontlikheid dat daar ’n vrye spel van sosiale diskoerse kan wees en dat alle diskoerse tot uitdrukking kan kom. Pluralisme gaan in essensie oor die aanvaarding van verskillende leefstyle, geloofsisteme en waardes dwarsdeur die samelewing (Norman, 2003:36). Daarom word diversiteit van oortuigings en waardes al meer die strukturerende beginsel van hedendaagse samelewings.

Kulturele individualisme:

Sekularisasie laat die klem op die outonomie van die menslike bewussyn val.  Kulturele individualisme is die direkte gevolg. Moderne individue is al meer op hulle eie persoonlike voorkeure ingestel. Die boustene vir mense se persoonlike identiteit word in die private of individuele sfere gevind, eerder as in die sfere van publieke instellings en oortuigings. Hierdie individualisme bewerk die privatisering van oortuigings en waardes in so ’n mate dat daar byna geen kollektiewe verwysingspunt vir religieuse en morele waardes meer bestaan nie (Avis, 2003:94). Daarom sê Moltmann (1999:85) word die lewe in moderne samelewings nie meer gevorm deur oorgelewerde tradisies nie, maar deur die uitkoms van die individue van daardie samelewing se vrye keuses.

Desekularisasie:

Desekularisasie kan in ander terme ook as post-sekularisme beskryf word. Op die internasionale godsdienstige terrein kom bewegings waarin ‘n kombinasie van die volgende merkbaar is, na vore: ’n groot godsdienstige ywer, die trotsering van die heersende tydsgees en ‘n terugkeer na die gesag van godsdienstige oortuigings wat tradisioneel gegeld het. Dit bied die uitdaging om godsdienstige ervaringe en oortuigings te artikuleer, sodat daar gemene gronde kan wees vir geloofsoortuigings wat essensieel is vir die voortbestaan van religie as sodanig.

Missionaliteit en godsdienstige vitaliteit:

Dat die NG Kerk aan voortdurende verandering onderworpe is, kan nie ontken word nie. Desondanks is daar genoeg aanduidings dat die NG Kerk steeds oor lewenskragtigheid beskik. Lidmate se finansiële bydraes en meelewing stel die kerk in staat om binne gemeenskappe te oorleef en aldaar te bedien. Die kerk het nog ’n plek in baie mense se lewens, hoewel nie meer sentraal nie. Die voortbestaan van die kerk hang toenemend af van gewone lidmate se godsdiens asook hulle diens aan die koninkryk van God.   

As die kerk, volgens Moltmann (1999:251), haarself beskou as een vorm van die koninkryk van God in hierdie wêreld (wat van God vervreem is) dan behoort die kerk oor meer besorg te wees as net oor haarself. Ter wille van die universele koninkryk van God het die kerk die taak om vol te hou om die evangelie te verkondig (Moltmann, 1999:252). Om hiermee vol te hou, moet die kerk die verskiIlende kragte en faktore wat ’n deurlopende rol in die samelewing speel, ken. In ’n tyd van waardeverwarring en waardeverskuiwing moet daar ’n kritiese wisselwerking tussen die Bybelse aansprake en hierdie situasie wees in die vertroue dat die evangelie mense anders kan laat dink, praat en doen (Vos, 1995:200). Om binne hierdie konteks relevant te wees, daag juis die kerk uit om daar teenwoordig te wees. Dit word egter bemoeilik deur ’n gevoel dat die kerk in die hedendaagse samelewing gemarginaliseer is. 

’n Missionale verstaan van kerkwees kan egter help om hierdie gevoel af te takel. Dit is ’n ‘beweging’ wat die kerk in God se eie uitreike na die mens vind en beteken ten diepste dat die kerk haar teenwoordigheid bevestig deur na mense toe te gaan, na aan ander te kom en empatie met hulle omstandighede te hê.  Die Christelike geloof is nie bloot ‘n private aangeleentheid nie. Dit is nie individuele, private mense wat die geadresseerdes van die kerk se boodskap is nie. Dit is die samelewing op sigself (Moltmann, 1999:253-254). Daarom behoort ’n missionale teologie (en gemeentes) daarna te streef om in voortdurend-veranderende omstandighede die boodskap van die evangelie te kommunikeer. Die motief is om op dié wyse die Christelike identiteit en etiek betekenis te laat kry in die poging om die samelewing te transformeer.

Daarom word in kerklike geledere, ook dié van die NG Kerk, gepraat oor die nodigheid dat gemeentes se fokus moet skuif van instandhouding na gestuurdheid. Dit is sekerlik ’n identifiseerbare ‘beweging’ in die kerk soos blyk uit die baie literatuur wat reeds oor onderwerpe soos missionale kerkwees, missionale spiritualiteit en missionale leierskap bestaan. Tog is die bedoeling en praktyk van missionaliteit nie deurlopend herkenbaar in die NG Kerk as geheel nie.

Wanneer die kerk haar bevind binne ’n diverse konteks en ook diversiteit na binne beleef, vereis dit van die kerk om aanpasbaar moet wees (Niemandt, 2011:13). Binne hierdie aanpasbare kerk bly mense diep bewus van hulle roeping. Hulle is bereid om self te verander en is entoesiasties om toegerus te word sodat hulle die dinge waarop dit werklik aankom, kan onderskei. Die sending van die kerk wat ook uitgevoer word deur gewone lidmate, vereis deesdae ’n meer dialogiese karakter. Indien daar nie ’n bereidheid is om met respek te luister na die mense met wie jy dialoog voer, kan jy ook nie duidelik sê waarom jy ’n Christen is nie (Gaum, 2011:164).

Dr Pieter Kruger

Dr Pieter Kruger fotoPieter Kruger is leraar van NG Gemeente Nigel-Suid sedert 2007. In 2014 verwerf hy sy PhD-graad aan UP met spesialisering in Kerkgeskiedenis.    

Die proefskrif, Die invloed van sekularisasie op die Nederduitse Gereformeerde Kerk: ’n Kerkhistories-sosiologiese perspektief, stel ondersoek in na die wyse waarop sekularisasie deur sosiaal-strukturele prosesse asook as sosiologiese verskynsel ’n onafskeidbare deel van die hedendaagse lewensfilosofie geword het. Ondersteun deur die resultate van empiriese navorsing binne die NG Kerk word verduidelik hoe sekularisasie godsdiens en die kerk se plek binne die Suid-Afrikaanse samelewing verander, hoe dit die waarde van godsdienstige opvattings sosiaal laat verminder, hoe dit godsdiens toenemend ’n private aangeleentheid laat word en hoe dit die NG Kerk as instelling omvorm. In die bespreking van die uitdagings waarvoor die NG Kerk te staan kom, word rigtingwysers aangedui waarmee die kerk op weg moet gaan te midde van die verbreiding van sekularisasie.

Elektronies beskikbaar by:

http://repository.up.ac.za/dspace/bitstream/handle/2263/43133/Kruger_Invloed_2014.pdf?sequence=1&isAllowed=y
Go to top